| Ou wenke |  |
Ek gaan hierdie naweek net positief met my kinders praat. Geen "jy mag nie", net "doen eerder dit".
Ek gaan probeer om elke liewe ding wat ek sê, in 'n positiewe lig te stel. Ek gaan ook nie negatiewe uitsprake maak soos: "jy gaan daar afval!" nie. Ek gaan glimlag en sê "sjoe, jy klim hoog".
|
Met die Matrieks wat begin eksamen skryf en die ander wat begin met hersiening, die volgende wenke vir ouers:
1. Glo in jou kind en vertel hom hy kan dit doen!
2. Moenie onnodige druk op jou kind sit nie. Almal wil graag 'n kind met 7 onderskeidings hê, maar wees realisties en stel gepaste doelwitte. Help ook jou kind om vir homself realistiese doelwitte te stel.
3. Begin vroegtydig hersien. Help jou kind van kleins af om 'n hersieningsrooster op te stel en om daarby te hou.
4. Maak genoeg tyd vir ontspanning. Dalk is dit 'n goeie idee om elke middag saam jou kind te gaan draf of 'n potjie tennis te gaan speel. Maak ook seker jou kind vat gereeld 'n breuk tydens studiesessies.
5. Laat jou kind 'n vinnige breuk vat as hy agterkom hy verloor konsentrasie: hardloop gou om die huis of gaan drink 'n yskoue koeldrank buite.
6. Moenie te veel koffie of gaskoeldranke vir jou kind injaag nie. Sorg dat hy 'n beker kouewater by sy lessenaar het en dat hy gereeld daarvan drink.
7. Maak vir jou kind gesonde, heilsame kos.
8. Sorg dat jou kind genoeg slaap.
9. Wees sensitief met jou kind: skep 'n akademiese atmosfeer by die huis en moedig vir Kleinsus aan om stil te bly in studietye.
10. Probeer dinge wat jou kind ontstel, weghou tot na die eksamen.
|
1. Sorg dat jy genoeg voorbeelde het om deur te werk. Kyk in die biblioteek vir ekstra Wiskunde handboeke.
2. Doen aktief Wiskunde huiswerk: teken diagramme, gebruik verskillende kleure en praat met jouself terwyl jy redeneer.
3. Maak vir jou flitskaarte om begrippe vas te lê.
4. Rus gereeld tussen-in.
5. As jy nie genoeg slaap en reg eet nie, gaan jy dit dalk voel as jy Wiskunde probeer doen!
6. Dit help soms om vir iemand anders die probleem te verduidelik - dalk kry jy die oplossing eerste!
7. Werk deur voorbeelde tot jy die beginsels verstaan.
8. Werk netjies. Berekeningsfoute gebeur soms omdat jy nie jou eie skrif kan lees nie of omdat die nommer van die som (1a of so iets) in die berekening ingebring is!
9. Dink oor jou antwoord: is dit logies? As jy twee getalle met mekaar vermenigvuldig, kan die antwoorde nie 'n negatief wees nie!
10. Glo in jouself: jy KAN Wiskunde doen. Praat positief met jouself.
|
1. Laat jou kind toe om dinge te ondersoek wat hom interesseer. As hy van rekenaars hou, koop vir hom opvoedkundige speletjies. As hy van honde hou, koop 'n skryfboek met 'n prent van 'n hond voorop, ens.
2. Stel jou kind aan 'n wye verskeidenheid bloot. As hy net wil rugby speel en kyk, neem hom na 'n kunstefees toe sodat hy aan Kultuur blootgestel kan word.
3. Stel korttermyn doelwitte en beloon gereeld. Om vir 'n laerskoolkind eers te beloon aan die einde van die jaar, sal min of geen motivering wees om in Januarie of Februarie huiswerk te doen nie! Beloon op 'n daaglikse, weeklikse, maandelikse of kwartaalikse basis. Neem jou kind se ouderdom in ag.
4. Leer jou kind om tyd effektief te bestee. Wys haar hoe om opdragte af te breek in hanteerbare dele. As die hele bladsy somme te veel lyk, laat haar eers fokus op die eerste lyntjie se sommetjies. Sodoende kan sy deur alles werk en sukses beleef soos wat sy aangaan.
5. Prys jou kind vir wat hy bereik het. Wees opreg en sê iets meer as net: "Mooi!". Vertel hom dat jy sien hoe hard hy werk en dat jy trots is op hom.
6. Jou kind moet verstaan wat haar rol in haar eie prestasie is. As sy nie vanmiddag wil huiswerk doen nie, kan sy nie verwag om môre goed te doen in 'n toets nie. Laat jou kind een of twee keer beleef wat gebeur as hy nie sy kant bring nie.
7. Wees positief oor skool. Vertel jou kind watter oulike onderwyser sy het en hoe 'n goeie skool dit is.
8. Jou kind moet insien hoe die wiskunde wat hy nou doen hom eendag gaan help in sy beroep. Hy kan nie 'n dokter word as hy nie die basis van Wetenskap ken nie.
9. Help jou kind om vervelige tuiswerk opdragte in pret om te skakel: speel speletjies, teken prentjies, skryf met interessante penne en gebruik kleurvolle papier. Werk soms teen tyd (kry 'n wekker).
10. Verseker jou kind gereeld van jou onvoorwaardelike liefde en spandeer tyd saam met jou kind. Doen lekker goed saam wat ook in sy belangstellingsveld val.
|
Wat ek as ouer doen om my kind te help?
- Praat baie met jou kind, van babajare af tot volwasse.
- Brei julle woordeskat as gesin uit, soek woorde in die woordeboek op en skep nuwe woorde.
- Sorg dat jy woorde korrek uitspreek. Stel jou kinders bloot aan korrekte Afrikaans, soos die Nuus op televisie.
- Toon belangstelling in jou kind se skoolwerk.
- Praat altyd positief teenoor spel en lees. Vermy opmerkings soos: "Jou pa kan ook nie spel nie!"
- Sorg dat daar baie leesstof tuis is. Koop koerante of ruil tydskrifte met 'n vriendin.
Sluit by die openbare biblioteek aan en gaan neem gereeld boeke
|
|
|