Tuishulp Ouerskapwenke

Leerhulp in jou taal!

Hiperaktiwiteit

Hiperaktiwiteit word geklassifiseer as onvolwasse gedrag, aangesien die kind nie sy gedrag kan beheer nie.  Kinders wat hiperaktief is, het nie noodwendig leerprobleme nie.

Daar is hoofsaaklik 4 tipes hiperaktiwiteit en deur te bepaal hoekom jou kind hiperaktief is, kan die hantering daarvan vergemaklik.

  1. Genetiese oorsake – die kind is reeds van geboorte af hiperaktief.
  2. Gedragshiperaktiwiteit word veroorsaak deur hoe ouers ‘n kind hanteer.  Dit gaan nie oor “verkeerde” hantering nie, maar eerder oor ‘n botsing in persoonlikheid tussen ouer en kind.
  3. Minimale breindisfunksie – kind is hiperaktief a.g.v. probleme tydens geboorte of ander gebeurtenisse.
  4. Reaktiewe hiperaktiwiteit word veroorsaak deur faktore in die omgewing, bv. huislike omstandighede.

Vir die doel van hierdie artikel fokus ons op hiperaktiwiteit wat veroorsaak word deur gedrag van die ouer en reaksie op omgewingsfaktore.

  • Aangesien hiperaktiwiteit gesien word as onvolwasse gedrag, is emosionele ontwikkeling ‘n belangrike aspek by die hantering van hiperaktiwiteit.  In die eerste plek moet jy fokus op die kind se selfbeeld en daaraan bou.  Die kind moet besef dat hy nie ‘n mislukking is nie en dat hy nie angstig hoef te raak nie.
  • As ouer moet jy fokus op beloning.  Beloon jou kind as hy reg optree of as hy die nodige aandag gee tydens tuiswerksessies.
  • Leer jou kind om selfbeheer toe te pas.
  • Leer jou kind probleemoplossingstrategieë.  As hy ‘n som moet doen wat hy nie verstaan nie, gee hom ‘n paar stappe wat hy gestruktureerd kan volg om die probleem op te los.
  • Voorsien die kind van grense en ‘n streng roetine waarbinne hy kan funksioneer.  Dit beteken daar moet duidelik reëls wees.
  • Verwyder enige onnodige steurnisse uit die omgewing.
  • Tree ten alle tye as ‘n rolmodel vir jou kind op.
posted by Tuishulp Admin in Algemeen and have No Comments

Leesspoed in die Hoërskool

Die volgende doelwitte is ‘n aanduiding van hoeveel woorde per minuut ‘n hoërskoolkind moet kan lees:

  • Graad 8: 204 woorde per minuut
  • Graad 9: 214 woorde per minuut
  • Graad 10: 224 woorde per minuut
  • Graad 11: 237 woorde per minuut
  • Graad 12: 250 woorde per minuut
posted by Tuishulp Admin in Algemeen,Hoërskool,Lees and have No Comments

Leesspoed in die Laerskool

Hoe vinnig moet ‘n kind kan lees in die laerskool?  Hierdie mylpale behoort ‘n aanduiding te wees:

  • Graad 2: 115 woorde per minuut
  • Graad 3: 138 woorde per minuut
  • Graad 4: 148 woorde per minuut
  • Graad 5: 173 woorde per minuut
  • Graad 6: 185 woorde per minuut
  • Graad 7: 195 woorde per minuut
posted by Tuishulp Admin in Algemeen,Graad 1 - 3,Laerskool,Lees and have No Comments

Lees in Graad 1

Hoe goed is ‘n kind in Graad 1 veronderstel om te kan lees?  Hier is ‘n paar mylpale wat as aanduiding kan dien:

  • Einde van die eerste kwartaal: 17 woorde per minuut
  • Einde van tweede kwartaal: 35 woorde per minuut
  • Einde van derde kwartaal: 62 woorde per minuut
  • Einde van vierde kwartaal: 80 woorde per minuut
posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Lees and have No Comments

Huiswerkwenke vir ouers

Wat is ‘n ouer se rol tydens huiswerksessies?

Wees ingelig: gesels met jou kind se onderwyser.  Maak seker jy weet wat die doel van die huiswerk is en wat die klasreëls is.

Wees entoesiasties: praat positief oor die skool, oor skoolwerk en veral oor huiswerk.

Help jou kind om te beplan:  leer hoe om tyd te bestuur.  Identifiseer ‘n spesifieke tyd vir huiswerk.  Moenie huiswerk uitstel tot wanneer daar laataand kans is nie.  Begin betyds werk aan groot projekte – selfs oor naweke!  Help jou kind om take op te deel in kleiner dele.  Wees rustig soggens voor skool sodat jou kind rustig kan skooltoe!

Rig jou kind se studeerarea in: jou kind moet weet waar sy huiswerkplekkie is.  Rus dit toe met papier, highligthers, linaal, potlode en ‘n woordeboek.

Moenie jou kind se huiswerk vir haar doen nie.  As jy onseker is, gesels met die kind se onderwyser oor wat jou rol is.

posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Hoërskool,Laerskool,Studiewenke and have No Comments

Ouers laat kinders presteer

Daar is 4 dingetjies wat ouers kan doen om hulle laerskoolkinders te help om beter te presteer:

Praat: Gesels met jou kind oor die skool.  Vra elke dag uit hoe dit gegaan het.  Gesels oor vriende, aktiwiteite, onderwysers en take.

Stel doelwitte: Help jou kind om spesifieke doelwitte te stel wat haalbaar is.  Fokus op hierdie doelwitte een-vir-een.

Prys en aanmoediging: Fokus op jou kind se sterk punte en prys haar vir spesifieke prestasies.

Bemoedig: Wees daar vir jou kind as dit nie so goed gegaan het nie.  Ondersteun jou kind wanneer hy sleg gedoen het in ‘n toets.  Verseker jou kind dit was net ‘n toets en jou kind is NIE ‘n mislukking nie.

posted by Tuishulp Admin in Algemeen,Eksamen,Graad 1 - 3,Hoërskool,Laerskool,Leerprobleme,Selfbeeld,Studiewenke and have No Comments

Tuiswerk

Die Weskaapse Onderwysdepartement moedig ouers aan om hulle kinders te help om die volgende te ontwikkel tydens tuiswerk-sessies:

Verantwoordelikheid: Laat jou kind elke dag op dieselfde plek en tyd sy tuiswerk doen.  Hy moet verantwoordelikheid aanvaar daarvoor.

‘n Gevoel van genoegdoening: Jou kind sal trots voel as sy hard werk en tuiswerktake daagliks afhandel.  Sy leer dat as sy heel kwartaal hard werk, dit die moeite werd was as sy haar uitslae sien.  Sy sal voel sy bereik iets.

Selfrespek: Wanneer jou kind take voltooi, ontwikkel sy selfvertroue.  Wanneer sy met genoegdoening kyk hoe netjies sy gewerk het, voel sy trots op haarself en ontwikkel sy selfrespek.

Onafhanklikheid: Leer jou kind reeds van kleins af om sekere take op sy eie te doen.  Jy kan steeds sy huiswerk kontroleer, maar hy kan dit alleen doen sonder dat jy heeltyd oor sy skouer loer!

Beplanning: Deur elke dag tuiswerk op dieselfde tyd te doen, leer jou kind om te beplan.

 

posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Laerskool,Leerprobleme,Studiewenke and have No Comments

Dissipline Tegniek

Hierdie baie bekende metode van dissipline word gebruik deur “Super Nanny” wat ons op TV sien.

Om hierdie metode toe te pas, is dit belangrik dat al die stappe gevolg moet word.  Dit moet ook in die volgorde gedoen word soos dit hieronder beskryf word.

Om dissipline toe te pas, is daar twee elemente wat jy moet gebruik tydens die hele proses: jy moet met ‘n dissipline-stem praat en jy moet na die kind se vlak daal.  Dit beteken jy moet ‘n ferm, effens-sagter-as-gewoonlik stem gebruik en laer sak tot op die kind se ooghoogte.

Stap 1: Waarskuwing

Hierdie is ‘n baie belangrike stap, omdat dit die kind die kans gee om sy gedrag reg te stel.  Dit dien ook as basis waarop jy die volgende stappe bou.  Sak tot op jou kind se vlak, kyk hom in die oë en praat met jou dissipline-stem.  Sê dat die gedrag onaanvaarbaar is, dat dit nie gedoen word nie en vra jou kind om dit nie weer te doe nie.

Stap 2: Ultimatum

Indien jou kind binne 10 minute weer die oortreding begaan, gebruik dieselfde tegniek en stel die ultimatum: “Ek het gesê dat jy nie jou suster mag slaan nie. Ons slaan nie mense nie.  Sy kon seergekry het.  As jy haar weer slaan, gaan jy na die stouthoekie toe.”

Stap 3: Die stouthoekie

Indien jou kind binne 10 minute weer die oortreding begaan, vat hom na die stouthoekie toe.  Dit kan enige plek wees waar dit vir jou pas.  Dis egter belangrik dat dit altyd dieselfde plek moet wees.  Laat jou kind daar sit en vê hy moet daar bly.  Die lengte van sy straf is ongeveer ‘n minuut vir elke jaar van ouederom.  M.a.w. laat ‘n 2-jarige 2 minute bly en ‘n 5-jarige 5 minute.

Stap 4: Verduideliking

Voordat jy wegloop van die stouthoekie af, moet jy eers verduidelik wat aangaan.  Noem weer wat hy verkeerd gedoen het, hoekom dit verkeerd is en sê dan: “Jy gaan nou hier sit vir 5 minute en dink oor wat jy gedoen het.  As die 5 minute om is, sal ek jou kom haal.  Ek wil hê jy moet dan vir my jammer sê.  Bly nou hier.”

As jou kind opstaan van die stouthoekie af, vat jy hom eenvoudig terug en herhaal die verduideliking.

Stap 5: Verskoning

Moenie jou kind langer los as die gegewe tyd nie.  Jy gaan na jou kind toe en sê ferm dat jy ‘n verskoning soek.  Hy moet “jammer” sê, maar eintlik wil jy hê hy moet bysê waarvoor hy jammer is.  ”Ek is jammer dat ek my suster geslaan het.”  Jou kind moet dit in ‘n toepaslike manier sê.  As hy dit gil, toon hy nie respek vir ander nie en tel dit nie as ‘n verskoning nie.

Stap 6: Aanmoediging

As jou kind om verskoning gevra het, prys hom daarvoor.  Jou kind moet sien dat sy swak gedrag vergewe is.

Stap 7: Gaan aan

Sodra jou kind om verskoning gevra het en jy hom geprys het, is die voorval afgehandel.  Vra jou kind of hy verder wil gaan speel.

posted by Tuishulp Admin in Dissipline,Graad 1 - 3,Laerskool,Voorskools and have No Comments

Aanleer van tafels

Hoe beter jou kind sy tafels ken, hoe makliker gaan Wiskunde vir hom wees.  Hier is ‘n aanleermetode vir tafels wat van die webwerf www.heinemann.co.za af kom.

Laai hier af: HeinemannMaaltafels

posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Laerskool,Wiskunde and have No Comments

Handskrif

Voorskoolse kinders en kinders in die Grondslagfase (Graad R – 3) moet hulle kleinspiertjies sterk maak sodat hulle makliker kan skryf.  Hier is ‘n paar idees om daardie spiere te oefen:

  • Speel met speelklei.
  • Knip verskillende materiale: papier, karton, lap en watte.
  • Skeur stukkies papier fyn – gebruik dit sommer om ‘n mooi prentjie te maak.
  • Laat jou kind met ‘n stresbal speel.
  • Kyk hoe vinnig jy met elke vinger aan jou duim kan raak.
  • Knyp wasgoedpennetjies aan ‘n stuk karton (of ‘n wasgoedlyn) vas en haal weer af.
  • Skeur blaaie uit ‘n boek en frommel dit in balletjies.
  • Druk koppiespelde in ‘n aansteekbord vas en trek dit weer uit.
  • Tel jou kind se voete op en laat hy kruiwa-loop.
posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Skrif,Voorskools and have No Comments