Hiperaktiwiteit word geklassifiseer as onvolwasse gedrag, aangesien die kind nie sy gedrag kan beheer nie. Kinders wat hiperaktief is, het nie noodwendig leerprobleme nie.
Daar is hoofsaaklik 4 tipes hiperaktiwiteit en deur te bepaal hoekom jou kind hiperaktief is, kan die hantering daarvan vergemaklik.
- Genetiese oorsake – die kind is reeds van geboorte af hiperaktief.
- Gedragshiperaktiwiteit word veroorsaak deur hoe ouers ‘n kind hanteer. Dit gaan nie oor “verkeerde” hantering nie, maar eerder oor ‘n botsing in persoonlikheid tussen ouer en kind.
- Minimale breindisfunksie – kind is hiperaktief a.g.v. probleme tydens geboorte of ander gebeurtenisse.
- Reaktiewe hiperaktiwiteit word veroorsaak deur faktore in die omgewing, bv. huislike omstandighede.
Vir die doel van hierdie artikel fokus ons op hiperaktiwiteit wat veroorsaak word deur gedrag van die ouer en reaksie op omgewingsfaktore.
- Aangesien hiperaktiwiteit gesien word as onvolwasse gedrag, is emosionele ontwikkeling ‘n belangrike aspek by die hantering van hiperaktiwiteit. In die eerste plek moet jy fokus op die kind se selfbeeld en daaraan bou. Die kind moet besef dat hy nie ‘n mislukking is nie en dat hy nie angstig hoef te raak nie.
- As ouer moet jy fokus op beloning. Beloon jou kind as hy reg optree of as hy die nodige aandag gee tydens tuiswerksessies.
- Leer jou kind om selfbeheer toe te pas.
- Leer jou kind probleemoplossingstrategieë. As hy ‘n som moet doen wat hy nie verstaan nie, gee hom ‘n paar stappe wat hy gestruktureerd kan volg om die probleem op te los.
- Voorsien die kind van grense en ‘n streng roetine waarbinne hy kan funksioneer. Dit beteken daar moet duidelik reëls wees.
- Verwyder enige onnodige steurnisse uit die omgewing.
- Tree ten alle tye as ‘n rolmodel vir jou kind op.



