Deur die loop van Graad 1 gaan jou kleinding leer lees. Aanvanklik gaan die juffrou vir hulle ‘n klankie op ‘n slag aanleer. Veral in die eerste helfde van die jaar is die aanleer van hierdie klanke baie belangrik. Jy kan jou kind soos volg help:
Vind uit wat jou kind se leerstyl is. Daar is hoofsaaklik 3 leerstyle: visuele, ouditiewe of taktiese leerders.
Die maklikste manier om klanke (trouens: enigiets) aan te leer, is deur te sien, te hoor en te doen!
Visuele leer van klanke:
- Gebruik lettervorms, prente, plakkate, yskasmagnete en enige ander visuele voorstelling van die klank.
- Speel “snap” of bingo met die klanke.
- Soek prente in tydskrifte wat met die klank begin. As julle “k” leer, soek prentjies van katte, kos en koeldrank.
- Gebruik verskillende kleure en laat jou kind in ‘n tydskrif die letters uitsoek.
Ouditiewe leer van klanke:
- Sê die klank hard, sag, met ‘n hoë stem en ‘n lae stem.
- Maak rympies op met die klanke.
- Sing die klanke.
- Kyk wie kan die meeste woorde uitdink wat met die klankie begin.
Taktiese en kinestetiese (beweging) leer van klanke:
- Trek die letter na op ‘n vel papier.
- Skryf die letter in sand.
- Verf die letter.
- Vorm die letter met klei.
- Skryf die letter op Mamma se rug.
- Vorm die letter met jou lyfie.




No comments