Hierdie baie bekende metode van dissipline word gebruik deur “Super Nanny” wat ons op TV sien.
Om hierdie metode toe te pas, is dit belangrik dat al die stappe gevolg moet word. Dit moet ook in die volgorde gedoen word soos dit hieronder beskryf word.
Om dissipline toe te pas, is daar twee elemente wat jy moet gebruik tydens die hele proses: jy moet met ‘n dissipline-stem praat en jy moet na die kind se vlak daal. Dit beteken jy moet ‘n ferm, effens-sagter-as-gewoonlik stem gebruik en laer sak tot op die kind se ooghoogte.
Stap 1: Waarskuwing
Hierdie is ‘n baie belangrike stap, omdat dit die kind die kans gee om sy gedrag reg te stel. Dit dien ook as basis waarop jy die volgende stappe bou. Sak tot op jou kind se vlak, kyk hom in die oë en praat met jou dissipline-stem. Sê dat die gedrag onaanvaarbaar is, dat dit nie gedoen word nie en vra jou kind om dit nie weer te doe nie.
Stap 2: Ultimatum
Indien jou kind binne 10 minute weer die oortreding begaan, gebruik dieselfde tegniek en stel die ultimatum: “Ek het gesê dat jy nie jou suster mag slaan nie. Ons slaan nie mense nie. Sy kon seergekry het. As jy haar weer slaan, gaan jy na die stouthoekie toe.”
Stap 3: Die stouthoekie
Indien jou kind binne 10 minute weer die oortreding begaan, vat hom na die stouthoekie toe. Dit kan enige plek wees waar dit vir jou pas. Dis egter belangrik dat dit altyd dieselfde plek moet wees. Laat jou kind daar sit en vê hy moet daar bly. Die lengte van sy straf is ongeveer ‘n minuut vir elke jaar van ouederom. M.a.w. laat ‘n 2-jarige 2 minute bly en ‘n 5-jarige 5 minute.
Stap 4: Verduideliking
Voordat jy wegloop van die stouthoekie af, moet jy eers verduidelik wat aangaan. Noem weer wat hy verkeerd gedoen het, hoekom dit verkeerd is en sê dan: “Jy gaan nou hier sit vir 5 minute en dink oor wat jy gedoen het. As die 5 minute om is, sal ek jou kom haal. Ek wil hê jy moet dan vir my jammer sê. Bly nou hier.”
As jou kind opstaan van die stouthoekie af, vat jy hom eenvoudig terug en herhaal die verduideliking.
Stap 5: Verskoning
Moenie jou kind langer los as die gegewe tyd nie. Jy gaan na jou kind toe en sê ferm dat jy ‘n verskoning soek. Hy moet “jammer” sê, maar eintlik wil jy hê hy moet bysê waarvoor hy jammer is. ”Ek is jammer dat ek my suster geslaan het.” Jou kind moet dit in ‘n toepaslike manier sê. As hy dit gil, toon hy nie respek vir ander nie en tel dit nie as ‘n verskoning nie.
Stap 6: Aanmoediging
As jou kind om verskoning gevra het, prys hom daarvoor. Jou kind moet sien dat sy swak gedrag vergewe is.
Stap 7: Gaan aan
Sodra jou kind om verskoning gevra het en jy hom geprys het, is die voorval afgehandel. Vra jou kind of hy verder wil gaan speel.




No comments