Tuishulp Ouerskapwenke

Leerhulp in jou taal!

Archive for the 'Graad 1 – 3' Category

Leer skryf sinne

In die Grondslagfase leer kinders om sinne te skryf.  Dis nogals ‘n moeilike ding om te doen as jy nie weet waar om te begin nie!  Hier is ‘n paar idees oor hoe om jou kind te help:

  • Gesels met jou kind oor sinne terwyl julle lees.  Wys waar ‘n sin begin en eindig.
  • Laat jou kind sinne maak en sê sonder om dit neer te skryf.
  • Vra vrae oor die sin, bv: Hoe lyk die seun?  Hoe hoog spring hy? Hierdie tipe vrae sal jou kind leer om meer detail in die sinne te skryf.
  • As jou kind ‘n woord kry om ‘n sin mee te maak, laat hy eers die sin vir jou Vervang dan die woord en herhaal jy die sin.  Bv: “Die hond sit.”  Nou maak jy die sin: “Die duif sit.”  Jou kind sal besef dat die sin eintlik niks sê nie.  Moedig jou kind aan om sinne te maak wat iets oor die woord sê, bv: “Die hond blaf die heeldag vir die kat.”  As jy die laaste sin se “hond” met “duif” vervang, kan jy agterkom dat dit ‘n goeie sin is!
  • Gee vir jou kind geskommelde woorde (wat ‘n sin maak) en laat hy dit reg skommel.
  • Help jou kind om die sin neer te skryf.  die eerste woord, laat hy dit dan skryf.  Sê die volgende woord, laat hy dit skryf, ens.
  • Maak oulike sinne en laat jou kind dit afskryf.
  • Vra jou kind uit oor wat die maatjies se sinne was.
  • Prys jou kind se pogings en moenie dit afkraak nie.
posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3 and have No Comments

Begripstoetse

Leer jou kind hoe om ‘n begripstoets (in Taal) te beantwoord:

1. Lees die leesstuk goed deur.

2. Lees deur die vrae.

  • Onderstreep die vraagwoord (bv: vergelyk, beskryf, voltooi, …) met ‘n highlighter.
  • Onderstreep die instruksies (bv: gee een woord, volsin, …) met ‘n ander kleur highligter.
  • Onderstreep die sleutelwoord of sinsdeel wat die vraag skakel met die leesstuk in ‘n derde kleur highlighter.

3.  Beantwoord die vrae nou een-vir-een.

  • Maak nie saak hoe goed jy dink jy kan onthou nie, jy moet teruggaan na die leesstuk met elke vraag!
  • Soeklees om die sleutelwoorde te vind.
  • Al die antwoorde is direk of indirek in die leesstuk.
  • Volg die instruksies slaafs – lees mooi wat gevra word.
  • Moenie die antwoorde direk uit die leesstuk skryf nie (tensy die instruksies so sê).  Gebruik jou eie woorde.
  • Skryf direkte aanhalings in aanhalingstekens.
  • Motiveer antwoorde, moenie net “ja” of “nee” skryf nie.
  • Kyk na die puntetoekenning – dis gewoonlik ‘n aanduiding van hoeveel jy moet skryf.

4.  Lees deur jou antwoorde.

  • Maak seker jy het reg beantwoord.
  • Maak seker van hoofletters en leestekens.
  • Kontroleer vir spelfoute.
posted by Tuishulp Admin in Assessering,Eksamen,Eksamenwenke,Graad 1 - 3,Hoërskool,Laerskool,Lees and have No Comments

Woordsomme

Ons kinders begin reeds van Graad 1 af eenvoudige woordsomme doen.  Daar is weinig kinders wat nooit sukkel met ‘n woordprobleem nie.  Vandag gesels ons oor woordsomme en hoe jy jou kind hiermee kan help.

  1. Soek die probleem en vind uit waarmee jou kind sukkel.  Om met ‘n woordsom te sukkel, sukkel jou kind gewoonlik met een van die volgende:
    • Sukkel hy om die woordsom te lees?  Dit kan wees dat hy verkeerd lees wat beteken dat sy probleem ‘n leesprobleem is.
    • Verstaan hy die som?  As jou kind sukkel met die Wiskunde-taal, die betekenis van die sin en wat hy moet oplos, is begrip die probleem.
    • Hy weet nie wat om te doen nie.  As jou kind sukkel om die belangrike inligting te identifiseer wat relevant is tot die probleem, is dit ‘n siftingsprobleem.
    • Dit kan ook wees dat jou kind nie ‘n plan kan uitdink oor hoe om die probleem op te los nie.
    • Kinders wat sukkel met volgorde, kan probleme het om meervoudige stappe te volg om sodoende die probleem op te los.
    • Dit is ook moontlik dat jou kind ‘n berekeningsprobleem het en nie by die regte antwoord uitkom nie.
  2. Om wiskunde te kan doen, moet jou kind wiskunde reëls en prosedures ken.
    • Tipiese reël wat nodig is vir laerskool-wiskunde, is bv: Enige getal x 0 = 0
    • Prosedures is bv: stappe wat gevolg word om langdeling te doen.
  3. Jou kind moet die taal van wiskunde verstaan.  Hy moet woorde en simbole ken.
    • Wiskunde-woorde wat jou kind moet ken, is bv: verskil, produk, groter as, vergelyking, som, ens.
    • As jou kind die simbole ken, sal hy weet hoe om die volgende op te los: (4 x 4) + (20 ÷ 4) = ?
  4. As jy weet presies waarmee jou kind in Wiskunde sukkel, kan jy daardie deel van die probleem aanspreek.  Gesels ook met jou kind se Wiskunde-onderwyser oor hoe jy jou kind kan help.
  5. Daar moet altyd rofwerkpapier byderhand wees as jou kind ‘n woordprobleem oplos.  Hierop kan hy teken en krap en die probleem uitredeneer.
  6. Dit is makliker om ‘n woordprobleem te verstaan, as jou kind dit kan teken met diagramme of sketse.  Moedig jou kind aan om prentjies te teken terwyl hy die som bedink.
  7. Sommige kinders vind baie baat daarby om saam met ‘n maat (of ‘n broer of suster) Wiskunde te doen.
  8. As jou kind berekeningsfoute maak, laat hy die somme uitwerk op grafiekpapier waar hy die getalle elkeen in ‘n blokkie skryf.
  9. Gebruik gekleurde penne en highlighters om belangrike woorde in die woordsom te identifiseer.
  10. Sorg vir tellertjies, soos krale, knope, potlode of enigiets anders wat jy kan vind!
  11. Laat jou kind prosedures en stappe leer deur dit grafies voor te stel.  Maak plakkate of flitskaarte en vertoon dit daar waar jou kind huiswerk doen.
  12. Maak seker dat die metodes wat jy tuis vir jou kind leer, ooreenstem met wat die juffrou in die klas vir die kinders leer.
  13. Sommige kinders leer wiskunde-feite beter as hulle dit met ritme, liedjies of rympies kan doen.
  14. Praat positief oor Wiskunde en moenie toelaat dat jou negatiewe herinneringe oorspoel op jou kind nie!
  15. Span die rekenaar in vir drilwerk – daar is baie oulike programme op die mark, soos Tyd vir Tafels en A+ Wiskunde.  Albei hierdie programme kan by Tuishulp aangekoop word.
  16. As jou kind vashaak met ‘n wiskunde woordsom, vra die volgende:
    • Lees die som hardop.
    • Omkring/highlight al die getalle waarmee jy moet werk.
    • Wat weet jy van die som?
    • Wat moet jy uitvind?  Watter antwoord wil hulle hê.  Omkring/highlight dit wat hulle vra in die som.
    • Teken ‘n prentjie om by die antwoord te kom.
posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Kurrikulum,Laerskool,Wiskunde and have No Comments

Engels Eerste Addisionele Taal (Tweede Taal)

Met die aangepaste kurrikulum begin ons kinders reeds van Graad 1 af Engels leer.   Die onderrig van ‘n tweedetaal is baie meer prakties as die van die eerstetaal.  Die fokus is op die gebruik van die taal eerder as om taalstrukture aan te leer.  Wat kan jy doen om jou kind te help om Engels te leer?

  • Gee geleenthede waar jou kind Engels kan praat sonder dat hy skaam voel.
  • Kyk saam met jou kind na volkleur prente en gesels daaroor in Engels.
  • Stel belang in wat jou kind in die skool in die taalklas leer.
  • Moedig jou kind aan om maats te maak met ‘n Engelssprekende.
  • Laat jou kind Engelse leesboekies uitneem in die biblioteek.
  • Sorg dat Engelse leesstof, soos tydskrifte en koerante, beskikbaar is in die huis.
  • Stel jou kind bloot aan Engels – luister na Engelse stories en liedjies of kyk Engelse programme op TV.
  • Hou aan om met jou kind in Engels te gesels, al wil hy nie met jou praat nie.
  • Moedig jou kind aan om handgebare en lyftaal te gebruik as hy kommunikeer.
  • Speel speletjies, soos stomstreke, maar met Engelse woorde.
  • Lees saam met jou kind hardop (m.a.w. julle albei lees).
  • Maak seker jou kind ken die sigwoorde.
  • Praat Engels op ‘n vlak wat jou kind kan verstaan.  Gebruik kort sinne en herhaal sleutelwoorde.
  • As jou eie Engels nie te waffers is nie, sien dit as ‘n geleentheid om saam met jou kind te leer.
  • Wees positief teenoor Engels en moenie dit afkraak nie.
Tags:
posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Laerskool,Lees and have No Comments

Lees met begrip

Kinders wat met begrip kan lees, lees makliker en vinniger.  Watter strategieë volg ‘n leser wat met begrip lees?

  • Goeie lesers bring dit wat hulle lees in verband met wat hulle alreeds weet.  Hulle vra die volgende vrae:
    • Waaraan herinner wat ek nou lees my?
    • Het ek al ooit so gevoel of so iets beleef?
    • Het ek al iewers anders hieroor gelees?
  • Goeie lesers dink oor wat gaan gebeur en maak voorspellings gebaseer op wat hulle weet en wat hulle lees. Hulle dink:
    • Wat dink ek gaan volgende gebeur?
    • Ek raai dat …
    • Hierdie opskrif of prent laat my dink aan…
  • Goeie lesers vra hulself vrae terwyl hulle lees.  Tipiese vrae is:
    • Hoekom gebeur dit?
    • Is dit belangrik?
    • Watter verband is daar tussen hierdie inligting en wat ek alreeds weet?
  • Goeie lesers stop en dink oor dit wat hulle lees en weet wat om te doen as hulle nie verstaan nie.  Hulle pas dan strategieë soos die volgende toe:
    • Lees weer ‘n gedeelte oor.
    • Lees stadiger of vinniger oor.
    • Sê die woord hardop.
    • Soek inligting uit die teks om oor dit wat hulle nie verstaan nie, begrip te kry.
  • Goeie lesers identifiseer die belangrikste idees en sit dit in hulle eie woorde.  Hulle kan dus die volgende vrae beantwoord:
    • Waaroor gaan die leesstuk of boek?
    • Wat is die sleutelwoorde?
    • Hoe is die storie georganiseer?
  • Goeie lesers maak prentjies terwyl hulle lees.  Hulle doen die volgende:
    • Maak prentjies van tonele in hulle kop.
    • Verbeel hulle hulle hoor, sien, ruik of voel dit wat hulle van lees.
    • Neem die karakters, die omgewing en die gebeurtenisse in ag en maak ‘n prentjie daarvan.
posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Hoërskool,Laerskool,Lees and have No Comments

Stres

Die oumense het mos altyd gesê ‘n kind het nie spanning nie en ‘n kind word nie kwaad nie.  Gelukkig leef ons in ‘n ander era en besef ons dat ons kinders aan al hierdie dinge blootgestel word en moet leer hoe om dit te hanteer.

Met die eksamens en finale toetse wat nou afgelê word, voel ons kinders die druk en moet ons hulle help om dit te hanteer.  Hier is ‘n paar praktiese wenke oor hoe om jou kind te leer stres hanteer:

  • Moedig jou kind aan om te ontspan.  Kinders ontspan deur bal te skop, te lees, met die hond te speel, te draf of ‘n rukkie te slaap.  Daar is heelwat ander maniere wat ook effektief is.
  • Dit is veral in die eksamentyd nodig om oefening te doen.  Laat jou kind gaan gim, gaan draf of op enige ander manier oefen.
  • Asemhalingsoefeninge is ‘n kitsontspanningsmanier.  Sê aan jou kind om stadig en diep asem te haal, of om sy asem ‘n paar sekondes op te hou en dan stadig uit te blaas.
  • Jou kind het aanraking nodig!  Sorg dat jy gereeld sag, maar ferm aan jou kind raak.  Gee hom ‘n drukkie as hy van die skool af kom of masseer sy nek en skouers vir ‘n paar minute terwyl hy studeer.
  • Dink en praat positief.  As jou kind paniekerig raak, vra haar wat is die ergste ding wat kan gebeur en hoe kan julle dit saam hanteer.    Moedig jou kind aan om positief met haarself te praat.
  • Luister na jou kind.  Moenie hom veroordeel nie, maar reageer aanvaardend en onderskragend.
  • Leer jou kind probleemoplossingstrategieë.   Kyk gerus hier vir ‘n metode.
  • Leer jou kind om sy gevoelens te herken.  Al die gewaarwordinge wat mens ervaar, kan opgesom word onder hierdie 5: liefde, vreugde, frustrasie, vrees en woede.
  • Maak lekker voedsame, gesonde kos.  Vermy suiker, sout, kafeïen, bymiddels en gemorskos in die eksamentyd!

Dit is natuurlik belangrik dat streshantering by die volwassenes moet begin!  Kyk gerus ook na jou eie manier waarop jy stres hanteer.  Ek dink in die eksamentyd stres die ouers meer as die kinders!

posted by Tuishulp Admin in Assessering,Eksamen,Eksamenwenke,Gedrag,Graad 1 - 3,Hoërskool,Laerskool,Studiewenke and have No Comments

ANA: Nasionale Jaarlikse Assessering

Tydens hierdie week (18 -  21 September) word die Jaarlikse Nasionale Assessering (ANA’s) in ons skole geskryf.  Alle leerders in staatskole, of skole wat enige toelaag van die Departement van Onderwys kry, van Graad 1 -  6 en in Graad 9 , skryf hierdie assesserings.

Die assesserings is ingestel om bepaal of die onderwys die doelwitte wat gestel is, bereik.  Die assesserings word geskryf vir Geletterdheid/Taal en Gesyferdheid/Wiskunde .

Waarvoor word die assessering gebruik?

  • Die Departement van Onderwys meet geletterdheid- en gesyferdheidsvlakke op nasionale vlak van alle leerders.
  • Die syfers word gebruik om te bepaal of daar verbetering in die onderwysstelsel is.
  • Die syfers word ook gebruik om te bepaal of daar ingegryping nodig is.

Tel die assessering vir my kind se rapport ?

  • Die assessering word nie gebruik om te bepaal of ‘n kind ‘n jaar slaag of nie.  Dit tel dus nie vir jou kind se rapport nie.
  • Onderwysers gebruik die punte om tekortkominge te identifiseer en om leerders te help om hierdie tekortkominge te oorkom voor die jaar verby is.
  • Dit is belangrik dat jou kind erns maak van die assessering, omdat dit probleme betyds kan identifiseer.

Word die punte bekendgemaak ?

  • Die onderwysers merk self die assessering volgens riglyne wat deur die Onderwysdepartement gegee word.
  • Ouers behoort die uitslae van hulle kinders se prestasie voor die einde van Oktober vanaf die skool te ontvang.
  • Die beheerraad van die skool ontvang begin volgende jaar terugvoer oor hoe die skool ten opsigte van die res van die land presteer het.
posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Kurrikulum,Laerskool and have No Comments

Aktiwiteite wat Wiskundige denke bevorder

Om Wiskunde te kan doen, moet ‘n kind dinge stapsgewys kan uitvoer.  Help jou kind met hierdie speletjies om die belangrike vaardigheid te bemeester:

1. Gee vir jou kind ‘n lys van opdragte om uit te voer.  Begin met een of twee en laat die lys al hoe langer word.  Bv: Spring op en af, raak aan jou oor, loop 3 reere agteruit.  En dan herhaal jy dit en voeg nog by.  Jou kind doen elke keer die aktiwiteit.

2. Laat jou kind getalle in reekse neerskryf.  Sê ‘n reeks getalle en hy moet dit neerskryf.  Jy kan weereens die lys stelselmatig langer maak.

3. Speel met blokkies.  Pak ‘n patroontjie uit en hou dit toe.  Laat jou kind nou die patroontjie met sy blokkies uitpak.

4. Doen ‘n reeks bewerkings.  Sê ‘n getal en laat jou kind ‘n bewerking gee.  Voeg nog ‘n getal by en laat jou kind die reeks herhaal.  Bv: 4 x 3 = 12, plus 4 is 16, verdubbel is 23.

 

posted by Tuishulp Admin in Graad 1 - 3,Hoërskool,Laerskool,Leerprobleme,Wiskunde and have No Comments

Taalontwikkeling

Teen die tyd wat jou kind skooltoe gaan, het sy al ‘n taamlike woordeskat.  Wat kan jy doen om jou kind se taalontwikkeling te stimuleer?

  • Lees baie stories.  Kinders van alle ouderdomme (en ook volwassenes) hou van stories!  As jy nie kans het om te lees nie, skaf stories aan wat op CD is.  Jy kan van RSG (www.rsg.co.za) se webwerf af heelwat Afrikaanse kinderstories aflaai.
  • Neem jou kind gereeld biblioteek toe.  Laat hy sy eie boeke kies wat hy wil uitneem.
  • Verduidelik vir jou kind woorde wat hy nie verstaan nie.
  • Dink rympies saam met jou kind uit.  Begin met ‘n lukrake woord en elkeen sê rymwoorde.  Dis ‘n prettige aktiwiteit om te doen as julle soggens skooltoe ry!
  • Praat baie met jou kind en luister na sy stories.

Jy kan hierdie aktiwiteit aflaai en saam met jou kind doen.  Tuishulp Klere

posted by Tuishulp Admin in Aktiwiteite,Algemeen,Graad 1 - 3,Lees,Voorskools and have No Comments

Leer omskakelings

In Graad 4 vra die onderwyser vrae soos: Hoeveel dae is 72 uur? of Hoeveel sekondes is in 2 minute?

Sommige kinders snap dit gou dat as jy weet hoeveel uur is daar in 1 dag jy dit net moet maal om uit te vind hoeveel uur is daar in 3 dae.  Hierdie kinders het nodig om eers die omskakelings te leer.  Hieronder is ‘n voorbeeld van flitskaarte wat hiermee kan help:

 

 

Vir ‘n sekere groep kinders is hierdie metode egter baie moeilik.  Daar is net te veel inligting en hulle kan nie die omskakeling doen nie.  Boonop moet hulle dan nog vermenigvuldig of deel!  Vir hierdie kinders kan die metode hieronder help:

  1. Leer die eenhede een vir een.  Begin bv met hoeveel ure daar in ‘n dag is.  Laat stel die kind ‘n tabel op:

Dag  Uur
1       24
2       48
3       72
4       96
5      120
6      144

  1. Laat die kind nou die veelvoude (bv ure) leer: 24, 48, 72, 96, 120, 144.
  2. Laat die kind die veelvoude op gekleurde papier neerskryf en uitknip.
  3. Vra nou ‘n paar vrae om vaslegging te doen.
  4. Herhaal nou met die volgende eenheid.
  5. As jy vrae vra, vra die eenhede deurmekaar.
  6. Dit help om elke eenheid op ‘n ander kleur papier te skryf.
  7. Plak die veelvoude op die muur om vaslegging te vergemaklik.

 

 

 

 

posted by Tuishulp Admin in Algemeen,Eksamenwenke,Graad 1 - 3,Laerskool,Leerprobleme,Studiewenke,Wiskunde and have No Comments